Veiligheid

AfriForum-traumaeenheid

Wat doen die AfriForum-traumaeenheid?

Die AfriForum-traumaeenheid is in 2015 gestig en het sy ontstaan te danke aan die behoefte om slagoffers van plaasaanvalle en plaasmoorde te ondersteun. Mettertyd het die afdeling begin uitbrei en is ook ondersteuning aan slagoffers tydens die polisie se regsprosesse en hofsittings verleen. Dit alles het vanuit die traumaeenheid in Pretoria geskied.

Die behoefte aan bystand het ontstaan by slagoffers wat geweld ervaar het na die traumatiese gebeure wat hulle beleef het tydens ’n plaasaanval en ander geweldsmisdade.

Die traumaeenheid verrig die volgende dienste vir plaasmoord- en -aanvalslagoffers:

  1. Berading: Opgeleide traumaberaders van die eenheid maak gebruik van beradingstegnieke om slagoffers te help om die emosionele en psigiese wonde wat die traumatiese insident veroorsaak het, te genees sodat hulle weer normaal kan funksioneer.
  2. Ontlonting: Ontlonting is ’n gestruktureerde proses wat met ’n individu of groep gevolg word. Die doel van ontlonting is om normaliteit by die groep of individu te bring deur aandag aan die vrees, angs, onsekerheid en emosies wat die traumatiese insident by die individu of groep meegebring het, te gee. Om verskeie redes vind ontlonting nie voor 72 uur ná die insident en gebeure plaas nie.
  3. Emosioneel ondersteuning: Emosionele ondersteuning het te doen met omgee, versorging, bemoediging, herbevestiging, aktiewe luister, empatie asook bystaan en ondersteuning van die persoon/slagofffer wat deur hierdie traumatiese insident en die nagevolge daarvan gaan. Dit geskied deur kontakbesoeke en waar dit nie kan plaasvind nie, geskied dit telefonies of ander digitale media soos Zoom of Teams.
    Die emosionele ondersteuning deur die traumaeenheid behels die volgende:
    • Op die toneel: Opgeleide traumavrywilligers (90) bied op die toneel van die insident/misdaad aan die slagoffer en sy familie ondersteuning. Die vrywilligers word deur die buurtwagte geaktiveer en werk baie nou met hulle saam.
    • Staan die slagoffers emosioneel by tydens die polisie en wetlike prosesse, bv. aanmelding van saak, seksuele molestering, verkragting en gesinsgeweld.
    • Emosionele bystand in die hof – woon die hofverrigtinge saam met die slagoffer by.
    • Ondersteun die slagoffer tydens hospitalisasie.
    • Ondersteun slagoffers telefonies indien hulle nie kontakbesoeke versoek nie.
    • Ondersteun slagoffers via Zoom of Teams.
  4. Bemagtiging: Bemagtiging behels die voorsiening van inligting, kennis en vaardighede aan die slagoffer om binne die omstandighede korrek en toepaslik te kan optree en die nodige wetlike prosesse te volg.
    Dit sluit kennis, inligting en vaardighede rondom die volgende sake in:
    • Aflê van ’n verklaring (beraders skryf nie verklarings namens slagoffers nie).
    • Ondersoekprosesse.
    • Hofprosesse.
    • Wetlike voorskrifte en prosesse t.o.v. kindermolestering, verkragting, gesinsgeweld.
    • Hofvoorbereiding
    • Verwysing na gespesialiseerde dienste en organisasies (indien nodig). Byvoorbeeld: sielkundiges, psigiaters, maatskaplike werkers.
  5. Materiele: AfriForum se traumaeenheid het ’n slagofferondersteuningsfonds wat deur hulp van donasies in stand gehou word. Die slagofferfonds stel ons in staat om ons slagoffers finansieel te kan bystaan waar hulle nie dit kan bekostig nie, of waar ons weet dit vir hulle verdere trauma kan inhou. Die slagofferfonds ondersteun slagoffers deur:
    • Skoonmaak van die toneel
    • Aankoop van nuwe beddegoed
    • Aankoop van kruideniersware
    • Help met die opskerp van sekuriteit deur alarmstelsels te installeer
    • Help met die betaal van operasies, medikasie of hospitaalonkostes waar slagoffers dit nie kan bybring nie.

Die AfriForum-traumaeenheid het ook ’n slagofferondersteuningsfonds wat aangewend word om slagoffers van dié gruwelmisdaad te ondersteun met onder andere die skoonmaak van plaasaanvaltonele, materiële ondersteuning, bystand met mediese onkoste, traumaberading aan slagoffers sowel as hulle geliefdes asook advies deur kundiges rakende ondersoek- en hofprosedures.

Indien jy ’n donasie aan AfriForum se slagofferfonds wil maak, gebruik asb. die onderstaande bankbesonderhede met verwysing “Slagofferfonds”.

Begunstigde: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 498 983 98
Tak: Centurion
Takkode: 261-550
Verwysing: Slagofferfonds