Sê nee vir ”transformasie” Beleid vernietig verskeidenheid

Die ANC het die afgelope 20 jaar daarin geslaag om die woord “transformasie” en die ideologiese inhoud wat die party aan die woord gee, as ‘n heilige koei in die openbare debat te vestig.

Niemand durf dit waag om openlik daarteen standpunt in te neem nie. Die strategie om moontlike teenstanders van die beleid se monde te snoer, is eenvoudig: Beskuldig hulle valslik van rassisme, dat hulle kwansuis nie verskeidenheid wil bevorder nie en ook nie vir arm swart mense omgee nie. Die teendeel is egter waar. Dít is eerder aanhangers van die beleid wat die term “transformasie” as ‘n gerieflike dekmantel gebruik waaragter hulle hul rassistiese minagting van minderheidsgemeenskappe soos Afrikaners uitleef, waarmee hulle verskeidenheid wil vernietig en waardeur ‘n klein elitegroep ten koste van die arm massas bevoordeel word.

Daarom stel ek dit openlik: Ek is gekant teen “transformasie”. Ek nooi ander om ook openlik vir transformasie” nee te sê. Hiermee sal jy ook jou steun gee vir die standpunt dat pogings om die wyd verspreide armoede die beste te pak, op sosio- ekonomiese behoeftes eerder as ras moet fokus. Opheffing mag nie nuwe vorme van benadeling en die vernietiging van verskeidenheid tot gevolg hê nie.

Vernietiging van verskeidenheid

Die inhoud van die ANC se “transformasie”-beleid behels dat die samestelling van alle instellings verteenwoordigend van die land se rassedemografie moet wees. Jy hoef nie ‘n wiskundige te wees om te besef dat dit tot gevolg sal hê dat alle instellings in die land oorwegend swart met Engels as voertaal sal wees nie. Die “tirannie van verteenwoordigendheid”, soos dr. Dirk Hermann van Solidariteit dit noem, laat dus geen ruimte vir verskeidenheid of ‘n plek vir minderhede in die son nie.

Pukke

Die voorstanders van die “transformasie” van die PUK-kampus van die Noordwes-Universiteit gebruik egter steeds die argument dat die insluiting van Engels as volwaardige voertaal op die kampus nie Afrikaans sal benadeel nie en verskeidenheid (of diversiteit soos hulle dit noem) op die kampus sal bevorder. Ironies genoeg het ‘n aanhanger van die “transformasie” van die PUK onlangs aangevoer dat ʼn “historiese bewussyn” onder jong Afrikaners gekweek moet word, sodat hulle die noodsaak van “transformasie” sal verstaan.

Dit terwyl die aandrang om die PUK te “transformeer” geen “historiese bewussyn” toon van die vernietigende invloed wat die beleid die afgelope 20 jaar op Afrikaans as voertaal op universiteite gehad het nie. By die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit, wat deels deur middel van fondsinsamelings deur die Afrikaanse gemeenskap tot stand gebring is, het die “transformasieproses” op dieselfde wyse begin as wat die aandrang nou by die PUK is, naamlik dat Engels as volwaardige tweede voertaal ingevoer moet word om toegang en verskeidenheid te bevorder. Vandag is die resultaat ooglopend: ʼn oorwegend swart kampus met Engels as voertaal.

Rassistiese minagting van minderhede

In ‘n land waar 37 van die 38 universiteitskampusse oorwegend Engels as voertaal gebruik en net een kampus steeds oorwegend Afrikaans is, is dit moeilik om te sluk dat die skep van geleenthede en toegang vir studente wat Engels as onderrigtaal verkies, die werklike motief is vir die aandrang dat die PUK se taalbeleid moet verander.

Om die laaste Afrikaanse kampus te teiken, getuig van ‘n rassistiese minagting van minderhede, en in die geval spesifiek Afrikaners. Dat die Wessels-verslag dit raadsaam kon vind om kritiek uit te spreek dat jong Afrikaners uit “Afrikanerskole” ‘n te groot deel van die studentegetalle uitmaak, wys hoe ver die ANC gevorder het om “transformasie” te gebruik om Afrikaners by te kom.

Transformasie kniehalter dienslewering

Frans Cronje van die Suid-Afrikaanse instituut vir Rasseverhoudinge slaan die spyker op die kop met sy stelling dat “regstellende aksie” babas doodmaak. Dis ‘n harde stelling, maar die feit dat die ANC ingevolge sy kaderontplooiingsbeleid en rasbeheptheid bereid is om selfs mense sonder die nodige kundigheid in kernposte aan te stel, bring onafwendbaar mee dat die lewering van dienste soos skoon water wat veilig is vir menslike gebruik op plaaslike vlak in gedrang kom. Die babas wat in Bloemhof weens besmette water gesterf het, is maar net een voorbeeld. AfriForum se plaaslike strukture ondervind daagliks hoe die dienslewering van munisipaliteite onder die ANC se rasse-ideologie meegee. Die ironie is dat arm swart mense die hardste getref worddeur die “transformasie”-beleid wal voorgehou word as poging om juis die mense se lewens te verbeter.

Transformasie vernietig jongmense se drome

Terwyl die politieke ideoloë met sakrekenaars uitwerk wat die rassesamestelling van instellings en sportspanne meet wees, word vergeet dat dit oor mense eerder as koue statistiek gaan. Die klagtes wat AfriForum al van tientalle ouers van “vrygeborenes” ontvang het wat weens hulle velkleur uit provinsiale skolesportspanne gelaat word, skep ‘n hartseer prentjie van jongmense wie se drome onder die dekmantel van “transformasie” vernietig word.

Voorstanders van “transformasie” is gou om te argumenteer dat dit op ekonomiese gebied goed gaan met Afrikaners en dat daar niks is om oor te kla nie. Die soort argument hou nie rekening daarmee dat welstand oor veel meer as ekonomiese posisie gaan nie en dat Afrikaners steeds ekonomies presteer weens vindingrykheid ten spyte van die hindernisse wat “transformasie in hulle pad gooi. Geen geld kan egter ‘n kind wie se waardigheid en toekomsdrome weens sy of haar velkleur aangetas word, herstel nie.

Deur “transformasie” aktief teen te staan, kan ons help bou aan ‘n samelewing wat werk om armoede te beveg en geleenthede te skep, sonder om in die proses verskeidenheid te vernietig en nuwe vorme van benadeling te skep.