Is ons gronddiewe? Nee!

“Wittes moet soos kriminele behandel word omdat hulle swartes se grond gesteel het.”

Met dié uitspraak het Julius Malema, toe nog die president van die ANC Jeugliga, in 2011 die tafel vir ’n volskaalse aanslag op die eiendomsreg van sogenaamde “wit” grondeienaars gedek. Die kommerwekkendste van hierdie uitspraak is nie dat Malema dit gesê het nie, maar eerder dat pres. Jacob Zuma – wat tydens die geleentheid teenwoordig was – geensins Malema se uitspraak gerepudieer het nie. Zuma het inderwaarheid sy stilswyende goedkeuring hiervoor gegee.

Selfs noudat Malema die ANC verlaat het, hoor ons nog telkens dat ANC-leiers in die parlement grootskaals veralgemeen deur aan te voer dat swartmense deur die “kolonialiste” oftewel “wittes” onregmatig hulle grond ontneem is.

Die vraag is hoekom die ANC so blatant aanhou om wittes as gronddiewe voor te hou. Die antwoord is eenvoudig. As wittes met geloofwaardigheid as gronddiewe uitgebeeld kan word, glo die ANC dat dit aan hulle regverdiging sal verleen om die internasionaal erkende beginsel van eiendomsreg te omseil en wittes se eiendomsreg af te water of selfs totaal te misken. Indien ’n mens kyk na die rits wetsontwerpe wat eiendomreg sal aantas, soos netjies uiteengesit is in die verslag oor eiendomsreg wat AfriSake onlangs bekend gestel het, is dit duidelik dat dit nie net landbougrond is wat geteiken word nie, maar ook ’n veelheid ander vorme van eiendomsreg. Die vraag is hoe ons op hierdie beskuldigings dat wittes “diewe” is, moet reageer.

Ons kan dit natuurlik bloot ignoreer en hoop dat dit net politieke retoriek is om stemme te werf. Die boere in Zimbabwe het destyds, toe daar begin is om hulle en hulle voorgeslagte as gronddiewe uit te beeld, besluit om die beskuldigings te ignoreer. Die resultaat van dié strategie is daar vir almal om te sien. Stilbly en niksdoen is dus nie ’n opsie nie.

Die tweede en beter opsie is om die beskuldigings van gronddiefstal en pogings tot die afwatering van eiendomsreg aktief teen te staan.

Hier is ’n paar argumente wat ons met vrug kan gebruik om die beskuldigings van gronddiefstal te weerlê:

1. Die Khoisan was eerste hier

Lank voor Julius Malema, Jacob Zuma of my eie voorgeslagte hier aan die suidpunt van Afrika aangekom het, het seminomadiese Khoi en nomadiese San reeds die land deurkruis. My voorgeslagte het vanuit Europa in die omgewing van Kaapstad die land binnegekom, terwyl Malema en Zuma se voorgeslagte vanuit sentraal-Afrika suidwaarts getrek het. Dit is dus onvanpas vir Malema of Zuma se ANC om my voorgeslagte as “setlaars of kolonialiste” te beskou, sonder om hulleself in dieselfde kategorie te plaas.

2. Slegs 30% van die grond was sonder tegnologie permanent bewoonbaar

In EL Pringle se navorsingsverslag getiteld “An Assessment of the 1913 Native Land Act” word uitgewys dat, in die afwesigheid van tegnologie om grondwater te benut, slegs 30% van Suid-Afrika se grondgebied vir permanente vestiging deur mense geskik was. Voor die koms van tegnologie uit Europa om grondwater te onttrek, sou 70% van Suid-Afrika se grondgebied dus nie permanent bewoon kon word nie. Daar kan dus geen sprake wees dat die hele land bewoon was toe my voorouers hier aangeland het nie.

3. Die Mfecane het voor die koms van die Voortrekkers groot dele van die binneland onbewoon gelaat

Gedurende die vroeë 1820’s het Mzilikazi, een van die Zoeloekoning Shaka se generaals, weggebreek en saam met sy volgelinge ’n skrikbewind, bekend as die Mfecane, teen ander stamme in die binneland van Suid-Afrika gevoer. Die stamme wat die binneland bewoon het, het voor Mzilikazi se aanslag gevlug. Groot dele van hierdie gebiede is in die proses grootliks onbewoon gelaat. Met die aankoms van die Voortrekkers in hierdie grootliks onbewoonde gebiede kon daar dus geen sprake daarvan wees dat hulle mense op groot skaal van hulle grond verdryf het nie. Die Voortrekkers het na my mening die stamme wat onder Mzilikazi deurgeloop het ’n guns bewys toe die Trekkers onder leiding van Andries Potgieter en Piet Uys vir Mzilikazi en sy volgelinge verslaan en oor die Limpoporivier verdryf het.

4. Die Voortrekkers het grond met wettige ooreenkomste bekom

Een van die voorbeelde van hoe die Voortrekkers grond met wettige ooreenkomste bekom het, is die ooreenkoms wat in 1846 met die Swazi-koning aangegaan is. Die gebied tussen die Olifants- en Krokodilrivier is in ruil vir beeste aan die Trekkers gegee. In 1855 is ’n soortgelyke ooreenkoms vir die Lydenburgdistrik aangegaan.

5. Die 1913-wet op grondbesit was net op 45% van Suid-Afrika se grondgebied van toepassing

Verwysings na die 1913-wet op grondbesit word graag deur die ANC gebruik om hul pogings om eiendomsreg te misken, te regverdig. Die ANC meld gerieflikheidshalwe nie dat die wet net op 45% van Suid-Afrika se grondgebied van toepassing was nie. Die wet was nie van toepassing op die destydse Kaapprovinsie, wat 55% van die land se grondgebied beslaan het nie. Die ANC meld ook nie dat grond van Suid-Afrika en sy buurstate soos Lesotho, Swaziland, Zimbabwe en Botswana (wat almal destyds Britse kolonies was en waarvan groot dele deur swartes bewoon is) ook in die oorweging van die toedeling van grond in aanmerking geneem is nie. Bogenoemde vyf argumente poog geensins om te probeer voorgee dat daar nie wel gevalle was waar swartmense hulle grond onregverdig verloor het nie. Waar bewyse van sulke gevalle bestaan, moet dit reggestel word. Dit is egter ’n minderheid van gevalle en dit kan geensins as argument gebruik word om te probeer aanvoer dat grond op groot skaal “gesteel” is nie.

Die huidige geslag grondeienaars en hulle voorgeslagte het nie dit wat hulle vandag het op ’n skinkbord gekry nie. Alles in ag genome, is daar geen rede waarom ons nie met selfvertroue en met alles tot ons beskikking moet stry om eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm nie. Dit is wat AfriForum doen en jy kan dit ook doen, want dit is die regte ding om te doen.